Staatsrede uitgestel, begin van Zuma se einde?

Die sogenaamde Staatsrede wat Donderdag sou plaasvind, is uitgestel met ten minste ‘n week.

Staatshoof Jacob Zuma het geweier om uit te tree nadat die die top ANC lede hom Sondag so versoek het.

Dit blyk dat die Zoeloekoning ook ‘n beroep op Zuma gedoen het om ter wille van die party uit te tree.

Die nasionale uitvoerende komitee van die ANC sou vergader het om te besin oor hoe daar van die mees korrupte politikus in die geskiedenis van die land ontslae geraak kan word, maar ook daardie vergadering is voorlopig uitgestel.

Die EFF het intussen  gedreig dat daar geen staatsrede sal plaasvind sou Zuma  dit lewer, en volgens die speaker van die parlement is besluit om die staatrede uit te stel, eerder as om toe te laat dat die verrigtinge weer deur die EFF ontwrig sou word.

Intussen het die Nelson Mandela Stigting gesê dat Zuma die vertroue van Suid-Afrikaners misbruik het en dat hy moet gaan, liefs vroeër as later.

In sy reaksie sê dr. Pieter Groenewald, leier van VF Plus, dat hoewel die VF Plus nie beswaar daarteen het dat Donderdag se staatsrede uitgestel is nie, is dit ʼn wesenlike probleem dat dit slegs ʼn dag voor die staatsrede aangekondig word.

Hy sê die uitstel skep die indruk dat die skrywes van opposisieleiers wat daarop aangedring het, nou as ʼn rookskerm deur die ANC misbruik word om sy eie onvermoë en onbevoegdheid om interne probleme op te los, te verbloem.

“Logistieke reëlings vir die staatsrede is reeds ver gevorder. Gaste van regoor die wêreld sou dit bywoon. Hotelbesprekings is gedoen en vliegtuigkaartjies gekoop. Om dit te kanselleer en te verander gaan groot onnodige koste vir die betrokkenes teweeg bring.

“Die uitstel van die staatsrede laat ook geen twyfel nie dat daar binne die ANC die gevoel is dat mnr. Cyril Ramaphosa die staatsrede moet lewer en nie pres. Jacob Zuma nie. Die uitstel is daarom dan ook ʼn oorwinning vir die Ramaphosa-faksie in die ANC.

“Dit is duidelik dat die ANC sukkel om van pres. Zuma ontslae te raak en die argument dat die ANC nie twee sentrums van mag kan hê nie, is ‘n swak argument.  Toe pres. Zuma in 2007 verkies is as pres. van die ANC, het Kgalema Motlanthe president geword nadat pres. Thabo Mbei herroep is.

“Die twee magsentrums in die ANC was in plek totdat pres. Zuma in 2009 president geword het. Dit is daarom duidelik dat die argument bloot daarop gemik is om van pres. Zuma ontslae te raak,” sê dr. Groenewald.