Regte Ramaphosa moet opstaan

Die nuwe staatshoof, Cyril Ramaphosa, is ‘n moeilike man om te begryp. Hy is iets vir almal, en sal op die lange duur nie daarmee kan wegkom nie.

So het die oud-parlementslid, dr. Pieter Mulder, gesê tydens ‘n byeenkoms van die Studiegroep vir Eietydse Geskiedenis (Sege). Dr. Mulder het gepraat oor die onderwerp: Wie is Ramaphosa?

Van die sake wat uit die Zuma-kamp teen Ramaphosa getel het, is die feit dat hy eers in 1991 lid van die ANC geword het en dus geen sogenaamde struggle-veteraan is, wat in die buiteland of in die tronk was nie. Hy het in Soweto grootgeword, waar sy pa in die sewentigerjare in die polisie was.

Volgens dr. Mulder is die vraag nou of Ramaphosa, wat ‘n kapitalis is, werklik die kapitalisme aanhang, en of hy die ou vakbondman is wat sosialisme aanhang? “Is hy ‘n lojale kader van die ANC, of is daar dalk iets van sy Christelike agtergrond oor? Niemand sal weet nie en die tyd sal dit leer,” sê dr. Mulder.

Daar wag enkele toetse vir Ramaphosa, soos die hersamestelling van die kabinet, sy hantering van korrupsie en staatskaping, die ekonomie en die grond kwessie.

Ramaphosa se toets lê ook ten opsigte van die Afrikaner. Hy is vriende met Roelf Meyer, en die gevaar bestaan dat hy die Afrikaner sien as die Roelf Meyers. Dr. Mulder het met Ramaphosa gepraat oor die afrikaner, maar Ramaphosa is uiters bang oor die hele kwessie van etnisiteit. Selfs tydens die Kodesa onderhandelinge wou hy nie oor die Afrikaner praat nie aangesien dit die kookpot van etnisiteit sou kon laat oorkook. Ramaphosa se prioriteit is beslis nie die Afrikaner nie. Hy sal dalk vorentoe wil uitreik na die Afrikaner as daar vir hom voordeel in kan wees.

“Vir die Afrikaner is Ramaphosa se verkiesing ‘n terugslag, want hy wil terug na Plan A, die sogenaamde reënboognasie. Hy het ‘n baie moderner aanslag as Zuma, is ‘n goeie kommunikeerder, het mensekennis en is ‘n strategies gevaarlike denker,” sê dr. Mulder.  “’n Slim man kan ‘n groter probleem wees as ‘n dom mens, en hy gaan ons mense ‘n ruk lank verlei en mislei.”`