Japanese juig oor reuse walvisvangs

Drie groot Japanese walvisjag skepe het pas teruggekeer na hawens nadat hulle weer ’n kontroversiële tog onderneem het na Antarktika met ’n gesamentlike vangs van 333 walvisse.

Die skepe het glo Saterdag aangekom in die hawe van Shimonoseki met hulle reuse vrag aan boord.

Altesaam vyf walvisjag skepe het die tog meegemaak wat in November vertrek het  op hulle ekspedisie te midde van wêreldwye besware dat Japan besig is om die walvisbevolking in die Suidpoolgebied uit te wis.

Die Internasionale Walvis Kommissie maak slegs voorsiening dat walvisse gevang kan word vir wetenskaplike navorsing, en die skuiwergat is genoeg vir Japan om jaarliks vir ’n grootskaalse vangs te sorg onder die dekmantel dat dit vir navorsing benodig word.

Die jag van walvisse is sedert 1986 verbode, maar Japan is volgens kenners, die enigste land wat die internasionale verbod oortree sonder om vervolg te word.