VSA onttrek uit Sirië

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die wêreld verras met sy aankondiging dat Amerika sy magte uit Sirië gaan onttrek.

In sy aankondiging het die president laat deurskemer dat die onttrekking van Amerikaanse soldate uit die oorloggeteisterde land vinnig en heel spoedig sal wees.

“Ons sal baie gou uit Sirië padgee”, het Trump in ’n toespraak voor industriële werkers in Ohio gesê, en bygevoeg dat die soldate “terugkom na hulle land waar hulle hoort”.

Meer as 2 000 Amerikaanse soldate is ontplooi in Sirië waar ondersteuning gegee word aan die stryders wat veg teen terroriste in die ooste van die land.

Navrae by die Departement het niks opgelewer nie en het ’n woordvoerder gesê die Departement weet van niks nie, wat die vermoede laat ontstaan dat die president nie die besluit vooraf met sy ministers bespreek het nie.

President Trump het die besluit gemotiveer en gesê die VSA het meer as $7 triljoen spandeer in die Midde-Ooste, en nog is die einde van die geweld nie in sig nie, terwyl die VSA niks in ruil daarvoor ontvang het nie.

Foto – President Donald Trump